Christo L. Mouton (28/01/1934 - 23/09/2017)

Stigter van Karstveld Afrikaners

Christo Mouton is op 28 Januarie 1934 in Bloemfontein gebore en het as agt jarige seun saam met sy ouers na die destydse Suidwes-Afrika verhuis waar hy in Windhoek grootgeword en aan Windhoek Hoërskool gematrikuleer het.

 

Hy is in 1963 met Esperanze getroud nadat hy op Pochefstroom studeer en vir 'n tyd in Suid-Afrika gewerk het. Hulle het in 1964 voltyds op Irene begin boer. Kort daarna het hy ook die plaas Luipaardskop gekoop.

 

Christo het op die Landboukredietraad, die direksies van Damara Meat Packers, Vleissentraal en Agra gedien en was vir langer as tien jaar voorsitter van die Namibië Landbou-unie (NLU) en later ook die Vleisprodusentevereniging.

 

Voorts was hy vir 12 jaar die voorsitter van die Vleisraad en het 'n sleutelrol in die stigting van Swavleis (later bekend as Meatco) vertolk. Sy seun, André, 'n ewe bekende in landboukringe, sê dit was sy pa se passie om 'n plaaslike abattoir in die land te vestig.

 

Vroeër jare is beeste uit Suidwes-Afrika per trein na abattoirs in Suid-Afrika vervoer. “Sy ingesteldheid was altyd om op 'n onbaatsugtige wyse die kollektiewe belang te dien, selfs al sou dit ten koste van homself wees. Hiervoor het hy wye respek afgedwing.

 

“Sy grootste passie in die lewe was sy boerdery en meer spesifiek sy Afrikaner-beeskudde,” sê André.

 

Christo is in 1971 aangewys as meesterbewaringsboer in die land. “Ook hier het hy 'n baie spesifieke visie gehad oor waar hy die Afrikaner-beesras wou sien as 'n produktiewe vleisbeesras. Daarom was hy aktief betrokke by die wetenskaplike teling daarvan en het ook vir baie jare op die Afrikaner Beestelersgenootskap se bestuur gedien.

 

“Hy word regoor Suid-Afrika en Namibië erken vir sy bydra en die genetika van sy diere is steeds hoog in aanvraag.” Verder was Mouton ook betrokke by die Otavi- en Otjiwarongo-gemeente van die NG kerk en het sy gemeente op sinodale kommissies en as afgevaardigde by algemene sinode verteenwoordig.

 

“Hy was altyd ingestel op die mense rondom hom, ongeag stand of oortuigings,” sê André.

© 2018 Karstveld. Proudly created by Netso.co

  • Facebook Clean