Blog

Artikel: Hier's 'n ware Afrikanerteler

ANDRIES GOUWS



Aan die begin is sy beeste op skoue uitgejaag omdat hulle nie die regte koppe en horings gehad het nie. Maar hy het deurgedruk met sy Afrikaners wat vleis dra. Vandag is sy bulle gesog omdat talle Afrikanerbeeskuddes tot niet geteel is met die kop-klem van die meeste telers.

Op die plaas Offer tussen Otjiwarongo en Grootfontein in Namibië het mnr. Christo Mouton nooit die vleiseienskappe van sy Afrikaners op die altaar geplaas ter wille van koppe en horings nie. Sy beeste het hom nie in die steek gelaat nie.


Hy huiwer wel nie om veranderinge aan te bring aan sy teelbeleid nie, want hy boer om ’n wins te maak. Daarom het hy al ’n proefneming gedoen met ’n Angusbul by van sy koeie. Dit het hom egter nie beïndruk nie. In die jongste verlede het hy ’n klompie verse uitgesoek vir ’n infusie-bul.


Om sy Afrikanerbeeste te laat vaar, was egter vir hom nog nooit ’n oorweging nie. Iets soos ’n afsonderlike “geïnfuseerde″ kudde as afsonderlike ras sou hy oorweeg, maar sy Afrikaners sal op die weiveld van Offer bly loop, want hulle kan hul man staan teen enige ander ras ten opsigte van wins op vleis per hektaar geproduseer.


Hy is lief vir die Afrikaner, sê Mouton, en hy wil graag hê dat sy seuns, André en De Wet, of minstens een van hulle, met die diere moet voortgaan, maar dit kan hulle net doen as hulle ’n wins kan maak.Daaraan twyfel hy nie, want die Afrikaners het vir hom só goed gesorg dat hy drie plase bygekoop en drie kinders se universiteitstudie betaal het.

Daar is mense wat sê hy kon dalk meer gemaak het met ander beeste, maar sy syfers wys dat hy in die laaste ses tot sewe jaar Afrikanerosse gelewer het wat op 30 maande tot 36 maande 230 kg uitslag. Sy jongste besending van 40 osse het gemiddeld 262 kg uitgeslag. En hy verwag dat die laaste groep van 40 osse wat hy nou gaan bemark, gemiddeld 250 kg gaan uitslag.


Dit weerspieël die Afrikaner se vermoë om gras in vleis om te sit. En as ’n mens kyk na kilogram vleis geproduseer per hektaar en na die koei-kalf-verhouding, staan dié ras nie vir ander terug nie.


Daarby pas die Afrikaner uitstekend in by verbruikers se aandrang op beter vleis met minder afval. Die Afrikaner het sagte vleis, want hy dra albei die gene wat daarvoor verantwoordelik is, die vet is besonder egalig versprei met baie min binnespierse vet en daarby is die vleis baie sappig en smaaklik. Hy glo dié eienskappe gaan al hoe belangriker word. Die Afrikaner se geneigdheid om in swak, droë jare nie dragtig te raak nie, tel in die kommersiële boerderysituasie wel teen hom. Hierdie eienskap is deel van die ras se aanpassingsvermoë en sy vermoë om in swak toestande te oorleef.


Hy het met teling gevorder in sy strewe om dié eienskap te probeer verander, maar kon dit nog nie heeltemal uitskakel nie. Dit is egter moontlik om met goeie veldbestuur, wat sover moontlik goeie kos verseker, daarmee saam te boer.


’n Mens dink dikwels die fout lê by die koeie, maar gewoonlik lê dit eerder by die bestuur. Hy self het sy weiding te swaar belaai, sy troppe was te groot en in die jare wat die reën min en daarby swak versprei is, het hy nie sy beesgetalle betyds aangepas nie.


Wat die bouvorm en lengte van sy beeste betref, het hy nie meer ’n probleem nie, want van vroeg af het hy baie klem op die vleiseienskappe gelê.


Sy pa, Andries, het met Rooi Poenskoppe geboer en later besluit om ’n Afrikanerbul by dié koeie te gebruik. Dit het gelei tot die ontstaan van ’n Afrikanerstoetery.


Mouton meen die Afrikanerbees is tot niet geteel, hoofsaaklik omdat die voormanne in 1912, toe die ras Stamboek toe is, besluit het suiwerheid lê in die bees se kop. Met enkele uitsonderings het ál die telers hierby ingeval en is daar oor dekades heen te veel aandag aan raseienskappe en te min aan produksie-eienskappe gegee.


Hy het in 1954 saam met sy pa begin boer en hulle het deur die jare hul koeie en bulle wyd oor die hele Suider-Afrika gekoop. Diere van telers soos mnre. Nico van Beek van Hoopstad, Berty Knott van Louis Trichardt, die Geldenhuyse van Hoopstad (veral sterk bene en goeie kloue) en die Trollips van Thabazimbi het ’n groot rol in die ontstaan van die stoetery gespeel.


Ál die teeldiere wat by die telers gekoop is, is sorgvuldig uitgesoek om in die eerste plek produksie-eienskappe te bevorder. Dit het daartoe gelei dat sy diere daar in die beginjare gewoonlik nie eens die beoordelingsfase van skoue bereik het nie. Die kop-manne het hulle sommer voor die tyd uitgejaag. Tot groot vermaak van baie ander boere.


Maar hy was só oortuig hy is op die regte pad dat hy aangehou het om met sy beeste aan skoue deel te neem. Hy het besef dat dit die enigste plek was waar hy vir ander boere kon wys wat hy met sy beeste regkry.

Van die sowat 70 Afrikanerbeestelers wat eens in Namibië geregistreer was, is daar nou sowat 10 oor. Hulle het in die laaste tien jaar ook die nuwe rigting ingeslaan en ag begin slaan op produksie-eien-skappe. Hulle vorder goed, sê Mouton. 

Balans is ook belangrik Die Afrikaner waarmee hy vandag boer, is gehard, aangepas, langlewend, het ’n baie goeie loopvermoë en is ’n uitstekende kruismaat vir ander rasse, sê mnr. Christo Mouton.

Hy pas sedert 1967 prestasietoetsing toe. Daarby het hy sy bulle aan fase C- en later fase D-toetsing onderwerp en gebruik BLUP-teelwaardes in sy seleksie. Volgens dié syfers is sy diere se gemiddelde geboortegewig laer as dié van die ras en die groei en voeromsetting is beter as dié van die ras.

Hy gebruik dié teelwaardes as seleksiehulpmiddel, maar probeer om deurgaans ’n balans te handhaaf. Teelwaardes is net die helfte, die ander helfte is om krities na die bees te kyk.

In dié proses het hy daarin geslaag om ’n uitstekende veldbees te teel wat baie goeie vleis produseer, maar hy glo boere sal nou ook moet fokus op die Afrikaner se vermoë in die voerkraal.


Mouton boer met sowat 150 stoetkoeie en ’n kommersiële kudde van 150 koeie. Hy gebruik een dekseisoen en verdeel die koeie in troppe van sowat 35 met ’n bul by elke trop.

Hy sit gewoonlik die koeie wat ’n spesifieke bul se nageslag is, by ’n ander bul uit ’n ander bloedlyn wat glad nie verwant is nie. Daarby kyk hy na die koeie se bouvorm en probeer ’n bul gebruik wat die beste nageslag uit die betrokke paring behoort te verwek. Die kalwers kom van November af aan en word die volgende jaar teen Augustus gespeen wanneer die bulkalwers gemiddeld 230 kg weeg en die verse gemiddeld 200 kg. Met speentyd word hulle die eerste keer geselekteer.


Van 30 % tot 60 % van die bulkalwers wat oorbly, word uitgesoek en aan ’n fase D-toets op die plaas onderwerp waarin hulle intensief met ’n goeie rantsoen gevoer word. Die res word almal geknip en as osse bemark.

Van die sowat 50 % van die bulle wat hy hou, is sowat 5 % tot 10 % van stoetgehalte en die res word as kommersiële bulle verkoop. Die bulle wat hy self gebruik, soek hy uit volgens hul prestasiesyfers, teling en voorkoms. Hy kyk vir eienskappe wat die bestaande diere kan verbeter.

Terselfdertyd is hy voortdurend op die uitkyk vir bulle uit ander bloedlyne wat hy kan koop om sy genetiese variasie so groot moontlik te hou en sy diere verder te verbeter. Sulke bulle is egter so skaars soos hoendertande, is sy ervaring.


Die verskalwers loop op die veld tot hulle sowat twee jaar oud is en dié wat dan 300 kg weeg, word gepaar met ’n bul wat weer uitgesoek word volgens teelwaardes, teling en voorkoms om die kudde verder te verbeter. Dié wat nie die teikengewig haal nie, word geslag.

Sy beeste se tussenkalfperiode is 460 dae, wat vir hom nie ideaal is nie. Hy hoop egter om dit met beter bestuur en veldbenutting deur ontbossing en ’n ligter belading te verbeter.

Uit Landbouweekblad

http://m24lbarg01.naspers.com/argief/berigte/landbouweekblad/2007/01/12/LB/14/01.html

11 views

© 2018 Karstveld. Proudly created by Netso.co

  • Facebook Clean